Winnie Rust Skryfwerkswinkel in Afrikaans.

Winnie Rust aanbieders

Die Tweede Winnie Rust Skryfwerkswinkel.
Aanbieders: Kerneels Breytenbch, Ingrid Winterbach & Eben Venter

22-27 Februarie.
Stilbaai, Suid-Afrika.


 

Hulle is terug! Kerneels Breytenbach, Ingrid Winterbach en Eben Venter by die tweede Winnie Rust Skryfskool.

Leer die geheime van romanskryf en -publiseer by drie bekroonde meesters van die
vak en ‘n gesoute uitgewer. Vir vyf dae, net voor Woordfees, kan jy as een van ‘n
groep van tien aspirerende skrywers leer, oefen en notas uitruil met ander
deelnemers en gepubliseerde skrywers terwyl jy heerlik vakansie hou aan die
historiese seefront van Stilbaai in die Suid-Kaap. Almal bly saam in regte outydse
strandhuise. Ons werk in die oggende en smiddae het jy vry om te swem, stap of jou
skryfwerk te oefen. Februarie is ‘n genoeglike, stil tyd met heerlike weer in Stilbaai.
Saans sit almal saam by ‘n langtafel vir hartlike kos en eersterangse geselskap.

Program

Vrydag 22 Feb  Aankoms op eie tyd
Saterdag 23 Feb 1e Oggendsessie  Die skrywer se notaboek – wat om daarin te skryf en hoe om dit te gebruik. Eben
2e Oggendsessie Opdragte uit die lesing en inter-aktiewe oorsig oor die opdragte. Eben
Sondag 24 Feb 1ste oggendsessie Hoe skryf ek oor ’n erotiese ervaring? Eben
2e oggendsessie Karakter: die spil waarom alles draai. Ingrid
Maandag 25 Feb 1ste oggendsessie Vertelperspektief: Deur wie se oë neem die leser waar? Ingrid
Dinsdag 26 Feb 1ste oggendsessie Die interne logika van die roman: hoe die inhoud die raamwerk van ’n roman beheer. Kerneels
2e oggendsessie Die eerste en laaste sin: die klinkende begin en einde. Kerneels
 Woensdag 27 Feb 1ste oggendsessie Om te leef met boeke – lesende navorsing. Kerneels
2e oggendsessie Skrywers se eie realpolitiek – uitgewers, ander skrywers, resensente … Kerneels
 Elke dag Laatmiddag Vryassosiasie-skryfoefening Frederik
Vertrek op eie tyd

Winnie Rust

Toewyding

Winnie Rust (1939-2016) was ‘n Wellingstonse skrywer, gemeenskapyweraar en weldoener. Sy was ‘n veelsydige skrywer wat onder meer die genres van drama, kortkuns, geestelike werk en die romanbeoefen het. Met die roman Martha (2004) het sy haar kritiese deurbraak gemaak. Haar jongste roman, Katryn, is in 2016 postuum uitgegee nadat sy om die lewe gebring is. “Lenatjie”, die seehuis van die Rust-familie, is een van die oudste en bekendste van die ikoniese strandhuise aan Stilbaai-Wes se waterkant.

Die aanbieders.

Ingrid Winterbach, wat ook onder die naam Lettie Viljoen geskryf het, is ‘n boorling van Johannesburg. Sy het haar aan die Universiteit van die Witwatersrand en dié van Stellenbosch in die skone kunste en letterkunde bekwaam, en was kunsdosent aan die Universiteit Stellenbosch en aan die Universiteit van Natal weer dosent in Afrikaans en Nederlands. Sedert 2002 is sy voltyds skrywer en skilder. Sy is die skrywer van elf romans en novelles waarvan verskeie in Engels vertaal is en waarvoor sy reeds talle bekronings ontvang het, onder meer die Hertzogprys twee maal, vir Niggie en Die aanspraak van lewende wesens. Haar jonste roman is Vlakwater (2015). Ingrid woon in Stellenbosch

Eben Venter was ‘n plaaskind uit die Burgersdorp-distrik, maar hy het wyd in die wêreld gewoon. Na skool in Bloemfontein het hy ‘n magistergraad in filosofie aan die destydse Universiteit van Port-Elizabeth ontvang. Hy het hierdie vak aan die Randse Afrikaanse Universiteit gedoseer en het ook lesings in letterkunde gegee aan die Universiteit van Kyoto, die Vrije Universiteit in Amsterdam en onlangs by die Universiteit van Queensland, waar hy tans besig is met ’n PhD in Kreatiewe Skryfkuns. Hy was inwonende skrywer aan die Nederlandse Instutuut voor Gevorderde Studie en aan die Universiteit Rhodes. In Johannesburg was hy joernalis en in Australië sjef, maar dis as skrywer van kortverhale en veral romans dat hy sy kleim afgesteek het. Sy werk is in Engels, Nederlands en Duits vertaal en is vele male bekroon. Sy jongste roman, Groen soos die hemel daarbo, het hy eers in Engels geskryf. Eben woon in Lismore, Nieu-Suid-Wallis.

Kerneels Breytenbach is ook ‘n Johannesburger van geboorte. Na ‘n probeerslag in argitektuurstudie en ‘n ruk as bankkassier behaal hy op Stellenbosch sy meestersgraad in Afrikaanse letterkunde. Hy was eers joernalis en toe boekuitgewer by, en uiteindelik hoofbestuurder van, Human & Rousseau. Hy het afgetree op Bettysbaai om hom voltyds aan sy skryfwerk te wy. Dié beslaan ‘n wyd gevarieerde ouvre, van kortverhale en verskeie romans tot boeke deur hom saamgestel, vertaal of in romanvorm verwerk. Sy kortverhaalbundel Morsdood van die honger is met die CNA-prys bekroon. Kerneels se veelsydigheid as skrywer weerspiël sy joernalistieke werk as vlymskerp boek-, film- en teaterresensensent en skrywer oor popmusiek. Hy is die voorsitter van PEN Afrikaans. Sy jongste roman, Ester (2014), is bekroon met die kykNET-Rapport-boekprys in die rolprentkategorie.

Reëlings

Skryf nou om jou plek te verseker by hierdie tweede Winnie Rust Skryfskool, aangebied ter nagedagtenis van die Wellingtonse skrywer Winnie Rust wat in 2016 om die lewe gebring is.

Skryf aan info@thetalkingtable.com vir inligting.
Pryse:
  • R10 000 per persoon wat deel R11 500 per enkelkamer
  • Ingesluit by hierdie fooie is kursusgeld, verblyf, ontbyt, verversings en ‘n langtafel-ete daagliks.